II.I.2015.006 | ‘n Ding wat homself dra


 > II.I.2015.006
Slippers, Beatrice Barbara
‘n Ding wat homself dra: Anne Carson se Nox as visuele en poetiese ondersoek na haar broer se lewe en dood en Afskrif. 2015-12.
Notes from Source: AFRIKAANSE OPSOMMING: Hierdie tesis is ’n studie van Anne Carson se boek Nox wat die vorm, voorkoms, prosesse en samestelling van die teks ondersoek en analiseer. Dit probeer tot ’n begrip kom van presies hoe Carson “a brilliantly curated heap of scraps” verwerk tot ’n outonome kunswerk, “a thing that carries itself.” In die eerste gedeelte van die tesis word Nox as voorbeeld van ’n kunsboek (“artists’ book”) beskou. Nox se inhoud en voorkoms word gemeet aan die definisie en kenmerke van kunsboeke en binne die konteks van die geskiedenis van boekkuns as praktyk geplaas. Daar word veral gefokus op die visuele aard van Nox, die maniere waarop die boek verskil van meer konvensionele tekste, die selfbewustheid en selfrefleksie wat in die teks manifesteer en die eenheid van vorm en inhoud wat die outeur/kunstenaar bewerkstellig. Die tweede gedeelte ondersoek hoe vertaling op verskillende vlakke as proses in die skep van Nox funksioneer. Die fragmente en brokstukke waaruit die teks bestaan word deur middel van vertaling tot ’n eenheid gebind. Die proses van lewensbeskrywing word op metaforiese vlak as ’n soort vertaling gesien, wat parallel staan teenoor die letterlike vertaling van Catullus se “Gedig 101” wat op die bladsye van Nox plaasvind. Terselfdertyd verteenwoordig die wyse waarop ’n private objek (Carson se notaboek waarin sy die oorspronklike brokke byeengebring het) verwerk word tot ’n publieke kunswerk (die kunsboek Nox) ’n volgende vlak van vertaling wat die ander twee vlakke omarm en bevat. Deur middel van ’n proses van intersemiotiese vertaling skep Carson in die kunsboek Nox ’n weergawe van “Gedig 101”. Die manier waarop die gedig betekenis skep word in ander tekensisteme in die kunsboek nageboots. In die laaste afdeling word semiotiek aangewend as teoretiese raamwerk waarbinne ’n teks wat uit verskillende media saamgestel is, ondersoek kan word. In dié gedeelte word ’n stiplees van Nox onderneem om te demonstreer presies hoe Carson die fragmente en brokstukke verwerk om ’n samehangende eenheid te skep. Daar word aangedui dat die teks gelees kan word as ’n vertraagde, verskerpte en ontplofte vertaalhandeling wat uitdrukking en vorm gee aan menslike smart. Die bundel Afskrif bestaan uit gedigte wat die moontlikheid van oorspronklikheid ondersoek en op verskillende maniere kyk na replikas, afskrifte, kopieë en herskrywings.
Further Notes: Accepted: 2015-12-14T07:43:57Z Journal Abbreviation: Afskrif

Add a suggestion, comment, or revision

Your email address will not be published. Required fields are marked *